Voorbehoedmiddel krap dalk reukseine na mans om
2010-08-02 11:51
Die Burger
Hormonale geboortebeperking krap die reukseine wat vroue na mans stuur, dalk so deurmekaar dat dit mans se keuse van maats moontlik kan beïnvloed.
Hieroor bespiegel navorsers nadat ’n Amerikaanse studie getoon het manlike lemurs wat in hokke woon, verkies vroulike ape wat nie hormonale voorbehoeding kry nie.
Prof. Christine Drea, ’n professor in evolusionêre antropologie aan die Duke-universiteit in Noord-Carolina, het aan Eurek Alert! gesê voorbehoeding verander die chemiese leidrade wat diere na mekaar stuur om oor genetiese geskiktheid, individualiteit en familieverwantskap te kommunikeer.
Dit geld veral diere soos lemurs, wat sterk op reukseine staatmaak. Volgens Drea het vorige studies getoon hormonale voorbehoedmiddels verander hoe begeerlik vroue vir mans “ruik”, asook die vrugbaarheidseine by soogdiere.
Luidens haar studie, wat aanlyn in die Proceedings of the Royal Society B gepubliseer is, word hormonale voorbehoeding dwarsdeur vroue se vrugbare jare en ná die oorgangsjare gebruik terwyl dit gereeld aan wilde en hokdiere toegedien word om hul voortplanting vir bewaringsdoeleindes te beheer.
Tog weet ons min oor die mate waarin dit die kwantiteit en kwaliteit van vroue se reukseine beïnvloed.
Drea wou vasstel in watter mate dit die lemurs se gedrag beïnvloed. Vorige studies het al getoon dit kan vroue se voorkeur vir mans wat geneties anders as hulle is, omkeer en mans se vermoë om veranderings in vroue se vrugbaarheidsiklusse waar te neem, beperk.
Vroue se gesigsuitdrukkings, stemtoon, die aantreklikheid van hul sweet en sekere vetsure in hul liggaamstowwe verander byvoorbeeld in die maandelikse siklus. Twaalf vroulike lemurs in die Duke-lemursentrum is maandeliks met hormonale voorbehoeding (medroksieprogesteroon-asetaat) ingespuit.
Drea se chemiese ontleding het getoon dié ape het ander reukmolekules vrygestel as dié wat nie die inspuitings gekry het nie.
Dit het die boodskappe wat die vroulike ape oor hulself aan sosiale kontakte en moontlike maats gestuur het, beduidend verander. Hulle het met ander woorde vir die res “snaaks geruik”.
Drea meen die vraag is of dié bevindings relevant is vir die menslike spesie.
“’n Mens wonder of mense se keuses dalk op dieselfde wyse geraak word as by dié soogdiere,” het sy gesê.