Volg New York-modeweek nou hiér
2013-02-05 17:12
New York – Modeslawe wat die afgelope paar jaar getrou vertonings by die New York-modeweek regstreeks op die videowebwerf YouTube gevolg het, sal vanjaar 'n ander oplossing moet vind as hulle op hoogte wil bly van die jongste neigings by dié jaarlikse gebeurtenis.
Die tegnologieblog Mashable het berig dat vertonings by dié modeweek nie vanjaar, soos die laaste drie maal, regstreeks op YouTube uitgesaai sal word nie.
Alles is egter nie verlore nie. Die aanbieder van die modweeek, IMG, werk met die videoverspreidingsplatform Rightster saam om al 54 van dié modeweek se vertonings op sy eie webwerf, mbfashionweek.com, uit te saai.
Die nege vertonings by die kleiner weergawe van die modeweek, wat bekendstaan as die MADE-modeweek, sal ook regstreeks beskikbaar wees by http://new.livestream.com/madefashionweek.
YouTube wou nie onmiddellik kommentaar lewer oor die redes waarom hy nie dié keer die modeweek dek nie, maar het aangedui dat regstreekse uitsendings waarskynlik weer tydens die volgende byeenkoms, in September, beskikbaar sal wees.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.