Voel só vinniger versadig
2011-11-09 09:07
Kaapstad – Dink net: Jy het pas begin eet, dan voel jy vol en stoot jou bord eenkant toe. Sommer gou begin die kilo’s wegsmelt.
’n Nuwe eksperimentele tegniek probeer juis dít doen met ’n pasaangeër wat in die maag geplant word.
Dié inplanting, genaamd Abiliti, is nog net in kliniese toetse in Europa gebruik vir mense wat aan erge vetsug ly en volgens MailOnline nou die eerste keer aan private Britse pasiënte gegee. Dit het hulle meer as £10 000 (sowat R127 000) uit die sak gejaag.
Volgens die maatskappy IntraPace wat die toestel vervaardig, kan die pasaangeër in die maag aanvoel wanneer ’n mens eet.
Die stelsel stuur dan elektriese seine na die maag wat die gastriese stimulasie veroorsaak wat maak dat ’n mens vroeër vol voel.
Dit help dat die pasiënt nie te veel, of tussen maaltye eet nie. Die vlak van stimulasie kan vir die betrokke behoefte aangepas word. Die stelsel kan jou blykbaar ook help om jou eet- en oefenpatrone dop te hou.
Indien nodig, kan dit later weer verwyder word.
Dit is glo geskik vir mense wie se liggaamsmassa-indeks tussen 35 en 55 is. ’n Gesonde indeks is tussen 20 en 25.
Tess van der Merwe van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Vetsug en Metabolisme, het by navraag gesê mense moet bewus wees daarvan dat dié nuwe prosedure “uiters eksperimenteel is. Ek moet hierop klem lê,” het sy gesê.
Sy het ook gesê dit is nie beskikbaar in Suid-Afrika nie.
Een van die voordele daarvan is dat die prosedure nie indringend is nie en dat mense nie medisyne hoef te gebruik nie.
Dit sal matige gewigsverlies van tussen 8% en 10% meebring, vergeleke met bariatriese snykunde (waar die maag verklein word), wat aansienlike gewigsverlies sal meebring.
Etienne Swanepoel, bariatriese chirurg van Kaapstad, het gesê die toestel is nie op lang termyn doeltreffend nie en sal nie veel gewigsverlies veroorsaak nie. “Ek glo nie dit is iets wat in Suid-Afrika sal posvat nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad