Vodacom beskerm nou simkaarte teen slenters
2011-09-07 12:51
Kaapstad – Vodacom het ‘n nuwe sekerheidsdiens bekendgestel wat gebruikers se simkaarte sal sluit as die selfoondiensverskaffer opmerk dat die simkaart verdagte oproepe maak.
Die diensverskaffer het glo die afgelope tyd ‘n toename in die hoeveelheid slenters genaamd International Revenue Share Fraud (IRSF) opgemerk.
Sindikate pleeg dié tipe bedrog deur simkaarte of selfone te steel en internasionale oproepe te maak en jaag selfoonrekeninge tot R120 000 op, lui ‘n verklaring van Vodacom.
Voortaan sal die diensverskaffer se stelsel die betrokke simkaart sluit as ‘n buitengewone hoeveelheid peperduur of verdagte oproepe gemaak word.
“Om ons kliënte te beskerm is vir ons belangrik,” het Portia Maurice, Vodacom se hoof van korporatiewe sake, gesê.
As ‘n slagoffer van die slenter se simkaart gesluit word, sal Vodacom die kliënt op ‘n alternatiewe kontaknommer daarvan in kennis stel.
Kontrakhouers word outomaties by die nuwe diens ingesluit, maar Vodacom-gebruikers kan kies om nie van die diens gebruik te maak nie, lui die verklaring.
“Die nuwe diens stel ons in staat om ons kliënte te beskerm ingeval hul simkaarte of selfone in gedrang kom,” het Maurice gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24