Vliëende padda 'n nuwe spesie
2009-08-10 13:01
Kathamandu - ‘n Vlieënde padda, die wêreld se kleinste takbok en die eerste nuwe aap is van die 350 nuwe spesies wat die afgelope eeu in die ooste van die Himalajas ontdek is.
Dié bergreeks staar ‘n ewig groeiende gevaar in die gesig weens onvolhoubare ontwikkeling in die gebiede van Nepal, China, Indië, Bhutan en Mianmar.
Luidens ‘n verslag wat Maandag deur die wêreldnatuurfonds WWF uitgereik is, hou klimaatsverandering, ontbossing, onwettige wildstropery, veeboerdery en wildhandel ‘n groot gevaar in vir hierdie, een van die mees biologies-rykste gebiede op die planeet.
“Die afgelope eeu is groot druk op die omgewing van Suid-Asië geplaas weens ‘n groeiende bevolking en ‘n behoefte aan kommoditeite,” het die verslag, "The Eastern Himalayas -Where Worlds Collide" gelui.
Slegs 25% van die oorspronklike habitat in die streek het behoue gebly.
"As 'n mens die skaarsspesies van die Himalajas ingsluit, beteken dit dat 163 spesies vandag wêreldwyd bedreig word,” het die WWF gesê.
Die WWF het gesê 353 nuwe spesies is tussen 1998 en 2008 in dié streek ontdek, wat die rooivoet-boompadda, beter bekend as die vliëende padda, insluit.
- Sapa-AFP