Visolie kan prostaatkanker help vertraag
2011-10-26 11:03
Los Angeles – ‘n Laevet-dieet saam met aanvullings van visolie kan die groei van prostaatkanker vertraag, het nuwe navorsing bevind.
Wetenskaplikes in Amerika het die bevinding gemaak na hulle weefsel van mans met die siekte getoets het.
Hulle het bevind binne slegs vier tot ses weke kan ‘n dieet laag in vetinhoud die groei van kankerselle vertraag.
Dieselfde vertraging is nie by mans wat ‘n tradisionele Westerse dieet, hoog in vet, volroom suiwelprodukte en verfynde graankos, gevolg het, opgemerk nie.
“Die bevinding is belangrik,” het die hoofnavorser William Aronson, van die Universiteit van Kalifornië, gesê. “Dit kan voorspel hoe vinnig kanker in die toekoms sal groei.”
Die navorsing is in die joernaal Cancer Prevention Research gepubliseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.