Virgin onderneem 1ste toetsvlug met ruimtetuig
2010-03-24 06:59
Jody Nel, Beeld.
Kalifornië - Die SpaceShipTwo (SS2), ’n prototipe van die wêreld se eerste kommersiële ruimtetuig, het Maandag sy eerste vlug vanuit die Mojave-woestyn in Kalifornië in die VSA onderneem.
Die SS2, ook bekend as die VSS Enterprise, is die geesteskind van die entrepreneur Richard Branson, stigter van Virgin Galactic, die wêreld se enigste ruimteredery.
Virgin Galactic het die SS2 drie maande gelede aan die publiek bekend gestel en wil die eerste diens wees wat toeriste na die buitenste ruim vervoer.
Ruimtetoeriste sal gewigloosheid kan ervaar en die ronding van die aarde sien. Passasiers sal egter sowat R1,5 miljoen moet opdok vir ’n kaartjie.
Sowat 300 mense het saam al meer as R330 miljard se deposito’s betaal vir die eerste vlugte, berig die webwerf Yahoo.
Burt Rutan, ontwerper van die SS2 en die WhiteKnight-Two (WK2), die moederskip wat die ruimtetuig die lug inneem, het Maandag op Virgin Galactic se webblad gesê dié dag is betekenisvol vir Virgin Galactic én sy onderneming Scaled, wat albei ruimtetuie gebou het.
Volgens die webwerf MSN het die WK2 die lug ingevaar met die SS2 aan sy vlerke vasgekoppel. Volgens Virgin Galactic het dit 2 uur en 54 minute lank in die lug gebly en ’n hoogte van 13 716 m bereik.
“Die vlug is die begin van wat ons glo ’n baie opwindende en suksesvolle ruimtetuig-toetsvlugprogram sal wees,” het Rutan gesê.
Branson het gesê die eerste toetsvlug het suksesvol afgeloop. “Vandag is nog ’n groot stap in die pad (na kommersiële ruimtereise) en spreek boekdele vir Amerikaanse ingenieurswerk en innovering.”
Yahoo berig die WK2 sal die SS2 in die toekoms tot ’n hoogte van 16 km die lug in neem voordat dit die kleiner ruimtetuig sal loslaat en die SS2 sy vuurpylmotor sal gebruik om die ruimte binne te vaar.
Die toetsvlugprogram sal nog minstens twee jaar duur. ’n Datum vir die eerste amptelike kommersiële vlug is nog nie bepaal nie.
- Beeld