Vinnigste straler ooit haal 21 000 km/h
2011-08-11 15:19
Londen – Teen die einde van hierdie minuut sal die Amerikaanse lugmag se nuwe Hypersonic Technology reeds 346 km ver kon gevlieg het.
Die Amerikaanse lugmag se departement vir navorsingsprojekte sal Donderdag die Falcon HTV-2 op ‘n vuurpyl se rug vanaf die Vandenberg-lugmagbasis in Kalifornië lanseer.
As alles reg verloop, sal die Falcon in die ruimte losgelaat word vanwaar hy terug na die aarde sal vlieg teen sowat 21 000 km/h, wat hom die vinnigste vliegtuig ooit sal maak.
Die Falcon het reeds in 2003 in die drome van die Amerikaanse weermag se slimkoppe geleef.
Hulle wou ‘n vliegtuig ontwikkel wat enige hoek van die aarde binne ‘n uur kan bereik.
Die rekenaarmodelle en windtonnels het die vliegtuig voorlopig getoets, maar dié toetse kan slegs snelhede tot en met 18 000 km/h naboots.
Donderdag se toets sal bevestig of die Falcon sy doel sal kan bereik.
– Lees meer hier.
Kyk hier na 'n video van 'n rekenaarvoorstelling van die Falcon se vlug.
– Volg Nuus24 op Twitter.