Vigs-syfers ’n probleem
2011-12-01 08:01
Pretoria – Vigsverwante siektes is waarskynlik steeds die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika, maar die manier waarop doodsertifikate voltooi word, maak dié aantal sterftes steeds moeilik om te meet.
Luidens die 2009-sterfteverslag wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) gister in Pretoria uitgereik het, het TB sowat 12% van die 572 673 sterftes veroorsaak en “MIV-siektes” net 3,1% daarvan.
Tog is meer as sewe uit tien TB-lyers in die land MIV-positief en weet kenners dit is MIV wat dié longsiekte aanvuur.
Kefiloe Masiteng, adjunk-direkteurgeneraal: bevolking en maatskaplike statistieke by die SSA, het gesê dit is wel bemoedigend dat sterftes in die land aanhou daal sedert 2007.
Dit het met 1,5% gedaal tussen 2007 en 2008 en daarna met nog 3,8% tussen 2008 en 2009.
Vrouesterftes het skerp begin daal in daardie jaar, veral in die ouderdomsgroep 20 tot 44 (-9,7%).
Die tweede grootste oorsaak van sterftes was griep, longontsteking en infeksies in die ingewande, wat ook dikwels met MIV verbind word.
Volgens die SSA is een van die uitdagings dat net 48,6% van die sterftes in hospitale plaasvind en net 53% van doodsoorsake deur gesondheidswerkers bepaal word.
Altesame 15% is gegrond op onderhoude met familielede en 8,6% op outopsies.
Masiteng het gesê die verslag is suiwer op doodsertifikate gegrond wat die SSA by die departement van binnelandse sake kry.
Die SSA kan nie die syfers interpreteer nie, maar bloot weergee wat op die vorms staan.
“Dokters is baie keer in die posisie waar hulle met sekerheid TB kan diagnoseer, maar die persoon se MIV-status nie bekend is nie.
“Sodra die stigma om MIV minder word, sal familielede makliker inligting oor die virus deel en behoort die statistieke te verbeter.”
Altesame 8,6% (49456) is aan onnatuurlike oorsake, soos aanranding en padongelukke, dood.
Dit is ook minder sterftes as in 2008 (53 300), maar meer as ’n driekwart van dié sterftes was mans.
Die SSA sê hy is steeds bekommerd oor onvolledige doodsertifikate waar mense se bevolkingsgroep, opvoeding, rook- en swangerskapstatus en beroepe nie ingevul word nie.
In sowat 13% van gevalle is sterfte-oorsake gekategoriseer as simptome en abnormale kliniese bevindings wat nie lig werp op ’n diagnose nie.
Dit neem boonop twee jaar vir statistieke om verwerk te word omdat die SSA eers moet wag dat die departement van binnelandse sake die dokumente verwerk en aan hom verskaf. Daarna het hy 18 maande nodig om die sterfteverslag saam te stel.
Sterftes
1997 - 317 151
1998 - 365 867
1999 - 381 839
2000 - 416 316
2001 - 454 971
2002 - 502 133
2003 - 556 882
2004 - 576 809
2005 - 598 240
2006 - 613 040
2007 - 604 100
2008 - 595 152
2009 - 572 673
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad