Vier nuwe spesies hoefystervlermuise ontdek
2012-09-13 12:58
Kaapstad – Vier nuwe spesies van die hoefystervlermuis is in Oos- en Suider-Afrika ontdek nadat wetenskaplikes leidrade soos DNS-data en die hoogste frekwensie sonarklanke van elk van hierdie vlieënde soogdiere sorgvuldig nagevors het.
Navorsers van die Universiteit Stellenbosch was betrokke by hierdie studie, wat pas in die oopbrontydskrif PLOS ONE verskyn het.
Twee van die spesies heet na toegewyde Suider-Afrikaanse bewaringsgesindes – onderskeidelik Lientjie Cohen, ’n wetenskaplike van Mpumalanga se toerisme-en-parke-agentskap, en die ander wyle dr. Reay Smithers, die skrywer van Suider-Afrika se omvattendste soogdier-antologie.
’n Derde spesie is genoem na sy tuiste rondom Berg Mabu, die grootste reënwoud in Suider-Afrika, wat deur ernstige bedreiging in die gesig gestaar word.
Die vierde spesie kom in Mosambiek voor.
Die nuwe spesies is bekend as Cohen se hoefystervlermuis (Rhinolophus cohenae), Smithers se hoefystervlermuis (Rhinolophus smithersi), die Mosambiekse hoefystervlermuis (Rhinolophus mossambicus) en die Berg Mabu-hoefystervlermuis (Rhinolophus mabuensis).
Daar is voorheen aanvaar dat slegs een soort groot hoefystervlermuis, Hildebrandt se hoefystervlermuis (Rhinolophus hildebrandtii), wydverspreid deur die hele Oos-Afrika, in die tropiese habitats van Zimbabwe sowel as in die Mpumalanga-provinsie van Suid-Afrika voorkom.
“Nou weet ons egter dat altesaam vyf verskillende spesies groot hoefystervlermuise in Sentraal- en Oos-Afrika aangetref word,” sê die hoofouteur, prof. Peter Taylor van die Universiteit van Venda.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter