Videospeletjies 'antwoord vir onderwys'
2011-09-15 07:03
Kaapstad – Videospeletjies boei kinders, dit is interaktief en dit is waarskynlik die antwoord vir die onderwys van die toekoms.
Só het prof. Lynette van Zijl van die departement rekenaarwetenskap van die Universiteit Stellenbosch gesê.
“Kinders van vandag leer anders as die vorige geslag. Hulle is baie meer interaktief en sal dit verkies om eerder ’n videospeletjie te speel as om stil te sit en na ’n onderwyser te luister.”
Sy het by navraag gereageer op ’n verklaring van die rekenaarmaatskappy Intel wat lui die moontlikhede vir videospeletjies in die klaskamer moet meer oorweeg word.
Volgens haar het videospeletjies in klaskamers ook ’n sielkundige voordeel vir kinders.
Sy het verduidelik dat die onderrigproses in werklikheid ’n soort konfrontasie is. Die onderwyser konfronteer die kind met ’n vraag waarvan hy waarskynlik nie die antwoord ken nie. Die kind gee ’n antwoord en hoop en bid dat dit reg sal wees.
Dieselfde vraag kan in ’n videospeletjie gevra word en die kind sal nie dieselfde ongemak ervaar nie.
Sy glo egter dat rekenaarspeletjies “baie goed uitgedink” moet wees. “ ’n Goeie rekenaarspeletjie moet die kind se aandag kan hou en die regte konsep kan oordra.”
Ntombezinhle Modiselle, bemarkingsbestuurder van die maatskappy, het gesê kinders van vandag word in ’n era van tegnologie gebore.
“Dit was nog altyd ’n bekende feit dat kinders leer wanneer hulle speel. Dit is steeds waar. Die omgewing waarin ons woon het egter net baie verander.”
Volgens haar help videospeletjies veral om kinders se kognitiewe vaardighede te ontwikkel.
Op die webwerf van Science Daily is vroeër vanjaar berig dat daar al hoe meer belangstelling onder navorsers en onderwyskundiges is oor videospeletjies in die klaskamer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger