Video: Mees ikoniese Steve Jobs-oomblikke
2011-10-06 07:56
New York – Steve Jobs, die medestigter van die tegnologiereus Apple, is Woensdag ná 'n lang stryd teen kanker dood. Hy was 56 jaar oud.
Jobs het in sy loopbaan bekendheid verwerf as doelgerigte leier, innoveerder en ook talentvolle orator.
Kyk hier na video's van Jobs se grootste oomblikke tydens sy loopbaan by Apple.
In 1984 is Apple se tafelrekenaar, die Macintosh, aan die wêreld bekendgestel met hierdie advertensie deur die Blade Runner-regisseur, Ridley Scott.
In 1998 het Jobs die eerste iMac bekendgestel. Die nuwe tafelrekenaar, ontwerp deur Jonathan Ive, was mooi afgewerk, goedkoop en minder bonkig as ander rekenaars van sy tyd.
Tien jaar gelede in 2001 het Jobs die draagbare musiekspeler, die iPod, bekendgestel. Sy idee was eenvoudig: ‘n Duisend liedjies in jou broeksak.
In 2005 het Jobs egter effens ‘n slaggat met die bekendstelling van die Motorola Rokr getref. Die foon was die eerste poging om ‘n selfoon met Apple se iTunes te koppel, maar in hierdie video is Jobs se frustrasie met Motorola se toestel egter duidelik. Die idee sou egter later herwin word.
Jobs het in 2007 die kreukels uitgestryk en met sy meesterstuk, die iPhone, vorendag gekom. Die slimfoon het die mark vir draagbare tegnologie en slimfone drasties verander.
In Januarie 2010 het Jobs die iPad bekendgestel en die tabletrekenaar het ondanks skeptici se lae verwagtinge die bedrywe vir nuusmedia, uitgewerswese, draagbare tegnologie en rekenaars oor die algemeen vir altyd verander.
– Bron: Mashable.com, Youtube. Lees meer oor nóg van Steve Jobs se vooruitstrewende prestasies hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.