Video: Buffel verloor stryd teen oormag leeus
2011-11-10 08:55
Die natuur op sy wreedste, maar ook die natuur op die beste.
Só het Kerri Bowie (26) van Kaapstad die gevoel beskryf toe sy Saterdagoggend skaars 400 m van die hoofhek van die Skukuza-kamp in die Krugerwildtuin gesien het hoe leeus ’n buffelbul plattrek.
“’n Mens sê altyd jy wil nie so iets sien nie, maar hierdie was ’n gebeurtenis wat ’n mens net een keer in jou leeftyd ervaar.
“Ons het verstar na die tweestryd om lewe gekyk.”
Bowie en haar familie het die afgelope week in Pretoriuskop gekampeer. Dit was maar die tweede keer dat sy in die Krugerwildtuin kom.
Sy en haar ma, Glynis Bowie, het die oggend besluit om alleen Skukuza toe te ry.
Hulle wou by die kruising net voor die kamp afdraai toe hulle ’n klomp motors verder aan in die H1-pad sien.
“Ons het nader gery en in die bos langs die pad leeus gesien. ’n Entjie verder was ’n trop buffels. Jy kon die spanning in die lug voel toe die leeus die buffels begin bekruip,” het sy vertel.
“Ek was besig om ’n foto van die groot leeumannetjie te neem toe alle hel losbars.
“Die trop van nagenoeg 25 buffels het uit die bosse, reg voor ons motor oor die pad gestorm. Een bul het in die teerpad vasgesteek en die leeus bestorm.
“Die leeus se hinderlaag het egter gewerk en hy is van die res van die trop afgesny. Toe die buffel probeer vlug, het hy op die teerpad gegly.
“En toe spring die een leeu op sy rug. Twee ander mannetjies het die buffel, wat onaards gebulk het, van agter vasgegryp.”
Die buffel is skaars vyf meter van die pad af platgetrek.
Bowie het gesê die brute krag van die buffel het haar verstom.
“Ten spyte van die drie leeus se aanslag het hy bly veg totdat een hom aan die gorrel beetgekry het. Daar was minute lank ’n geroggel voordat die buffel gevrek het.”
Die Bowies het Skukuza toe gery en toe hulle sowat ’n halfuur later weer by die toneel kom, was daar ’n groot verkeersopeenhoping. “Veldwagters het die leeus glo van die karkas af weggejaag en dit dieper die veld ingesleep. Die leeus het toe teruggekom en verder gevreet,” het sy vertel.
Dit is gedoen omdat daar glo toeriste was wat by vangs uitgeklim het om beter foto’s te kon neem.
Kyk hier na die video. WAARSKUWING: Vloekery.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger