Video: Bejaarde paartjie giggel op webkamera
2011-09-19 17:55
Kaapstad – ‘n Video van ‘n bejaarde paartjie wat hulself per ongeluk opneem terwyl hulle leer hoe om hul rekenaar se webkamera te gebruik, raak uiters gewild op YouTube.
Die video wys hoe die paartjie voor hul rekenaar met die tegnologie sukkel terwyl hulle grappies deel en giggel.
“Hoekom wil die ding nie ‘n foto neem nie?” vra die vrou in die video terwyl sy en haar man opgeneem word.
“Ek weet nie, skat,” antwoord haar man voor hy luidrugtig en op sy gemak wind breek.
Die man komplimenteer sy bejaarde vrou ook oor hoe mooi haar hare vir hom op kamera lyk voor sy kompliment grappenderwys flirterend raak en die twee ‘n liefdevolle oomblik deel.
Die tweetjies begin egter agterdogtig raak wanneer die vrou “jy moet die opname stop voor jy die program kan toemaak” op die skerm lees.
"Dalk neem dit ons op," spekuleer die ou man.
“Ek gaan nog meer plooie kry as ek nie kan uitvind hoe hierdie ding werk nie,” sê die vrou voor die opname stop.
Sowat 6.7 miljoen gebruikers het reeds op die videodiens YouTube na die video gekyk.
“Ek kan net hoop om eendag so mooi verhouding te hê,” lui een gebruiker se kommentaar.
“Dit is hoe die liefde lyk,” het ‘n ander geskryf.
Kyk hier na die paartjie se probeerslag met die kamera.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24