Verwoestende vulkaan dreig
2010-03-30 10:50
Rome – Europa se grootste ondersese vulkaan kan moontlik disintegreer en ‘n tsoenami veroorsaak wat die suide van Italië “enige oomblik” kan verwoes, het ‘n kenner in vulkane gewaarsku in ‘n onderhoud wat Maandag in Corriere della Sera gepubliseer is.
Die Marsili-vulkaan, gevul met magma, bevat mure wat inmekaar kan sak, het Enzo Boschi, president van die instituut vir geofisika en vulkanologie, aan die Italiaanse koerant gesê.
Volgens Boschi is die vulkaan nie solied nie en die mure is nie baie sterk nie.
Die vulkaan is aktief en kan enige oomblik inmekaarsak of uitbars, het hy gesê.
Indien die vulkaan uitbars sal dit ‘n kragtige tsoenami veroorsaak wat die kus van Italië kan tref.
Die Marsili, wat 150km van Napels geleë is en 450km onder die oppervlak van die Tirrheense see voorkom, is 3 000m hoog, 70km lank en 30km in breedte.
“Dis onmoontlik om voorspellings te maak. Die risiko is 'n realiteit, maar moeilik om te evalueer,” het Boschi gesê.
- Sapa