Verlore, blinde hond stap terug na eienaars
2012-12-26 15:00
Fairbanks, Alaska – Blind en alleen in Alaska se wintertemperature wat tot -40°C gedaal het, het 'n verlore agtjarige hond nie 'n kans gestaan om by die huis uit te kom nie.
Nadat sy 16 km na die rand van 'n plaaslike eienaar van 'n honde-sleespan se werf gestap het, is Abby, 'n bruin-en-wit basterhond, met haar eienaars herenig.
Die hond wat die familie by 'n skuiling gaan haal het, het op 13 Desember tydens 'n sneeustorm verdwyn en die familie het nie gedink hulle sal haar ooit weer sien nie, het The Fairbanks Daily News-Miner berig.
"Dit is 'n wonderwerk, daar is geen woorde om dit te beskryf nie," het 'n betraande McKenzie Grapengeter gesê.
"Ons het nooit gedink sy sal veilig en lewend na ons terugkeer nie."
Mark May, veearts en eienaar van 'n honde-sleespan, het gesê hy het op 19 Desember op die hond afgekom toe hy en sy honde uit was, maar hy het nie stilgehou om haar op te laai nie.
"Die hond het vir sowat 1,6 km saam met ons gehardloop op pad huis toe, voor sy koers verloor het, maar ek het 'n groot honde-sleespan gehad so ek kon haar nie gryp nie."
Die volgende dag het die hond by May se huis aangekom en die hond het volgens hom geen tekens van verkluiming getoon nie.
Die Grapengeter-gesin het nie 'n mikroskyfie in die hond laat inplant nie, maar die gemeenskap het sosiale media gebruik om Abby se eienaars op te spoor.
"Ons is so dankbaar vir al die gemeenskap se harde werk. Hulle het aan ons die wonderlikste Kersgeskenk gegee," het McKenzie gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP