Verlamde apie loop weer ná stamselbehandeling
2010-12-08 12:04
Tokio - Japannese navorsers het Woensdag gesê dat hulle stamselle gebruik het om 'n verlamde klouapie weer te laat loop.
"Dis die eerste keer in die wêreld wat 'n klein primaat herstel van 'n ruggraatbesering danksy stamselle," het prof. Hideyuki Okano van Tokio se Keio-universiteit aan die nuusagentskap AFP gesê.
Okano se navorsingspan, wat vroeër dieselfde behandeling met sukses op 'n muis toegepas het, het 'n klouapie behandel met geïnduseerde pluripotente stamselle (iPS), het hy gesê.
Die span het vier soorte gene in menslike stamselle geplant om die iPS-selle te skep, aldus Kyodo News.
Die inspuiting is op die negende dag na die besering toegedien, en die klouapie kon binne twee na drie weke weer sy arms en bene beweeg, het Okano gesê.
"Na ses weke het die apie tot so 'n mate herstel dat dit kon rondspring," het hy aan AFP gesê.
"Die krag van die greep in sy voorpote het ook met 80 persent toegeneem."
Okano het die projek bestempel as 'n belangrike stap om die weg te baan vir soortgelyke prosedures by mense.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP