Verkragters moet ligloop vir slimfoonprogram
2011-10-13 22:14
Nieu-Delhi – Vroue in die Indiese hoofstad Nieu-Delhi sal binnekort met die druk van ‘n knoppie aanvallers kan afweer en hul vriende, familie en die polisie in kennis stel.
Een in elke vier vroue wat in Indië verkrag word, leef in Nieu-Delhi, het die polisie gesê. 'n Vrou word elke 18 uur in die stad verkrag.
Vroue word daar glo in bewegende motors ingestamp, verkrag en padlangs agtergelaat.
‘n Nuwe slimfoonprogram, Fight Back, sal egter in November vrygestel word en sal as ‘n SOS-sein funksioneer.
Die program sal ‘n SMS met GPS-koördinate aan vyf mense, onder ander die polisie, asook ‘n noodboodskap op die sosiale netwerke Facebook en Twitter uitstuur.
“Vroue se veiligheid is ‘n groot probleem in Delhi,” het Hindol Sengupta, die medestigter van Whypoll, die maatskappy wat die program vervaardig, gesê.
“Vroue word oral geteiken en gemolesteer op busse, treinstasies en waar hul kruideniersware koop,” het Sengupta gesê. “Ons glo dit is die eerste selfoonprogram in Asië gemik daarop om vroue se veiligheid te verseker.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters