Veearts opereer ná krok blikkie insluk
2011-11-09 22:45
Kaapstad – Liz, die 25-jarige krokodil van die Congo
Wildlife Ranch in Oudtshoorn, is in ‘n stabiele toestand nadat sy ‘n koeldrankblikkie ingesluk
het.
Tammy Moult, woordvoerder van die wildpark, sê
‘n veearts in Oudtshoorn moes opereer om die drie meter lange krokodil van die blik te
verlos.
“Iemand het ‘n koeldrankblikkie in die kamp gegooi en Liz het dit ingesluk voordat ons by haar kon uitkom,” het Moult gesê.
Volgens Moult het die veearts verskeie opsies
oorweeg voordat hy geopereer het.
Hulle het uiteindelik besluit om die kant van
haar buik oop te sny om die koeldrankblikkie te verwyder.
Die blikkie is uitgehaal en Liz is na ‘n
privaat kamp by die wildpark geneem om te herstel.
Dit was ‘n traumatiese ervaring, sê Moult, en
Liz het rustigheid om haar nodig.
Hy sê besoekers maak baie lawaai, party stamp
hulle voete en fluit vir die krokodille.
“Nie almal wat die wildpark besoek verstaan
diere nie,” sê hy.
Volgens Moult lyk dit darem asof Liz aan die herstel
is.
“'n Mens
moet maar versigtig wees, want water-diere se wonde genees nie maklik nie,” het
Moult gesê..
Die wildpark het die blikkie wat Liz ingesluk het,
in ‘n glaskas tentoongestel.
Hiermee hoop hulle om besoekers van die
gevolge van hul optrede bewus te maak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA