Vandale steel antieke rotskuns
2012-11-20 12:49
Los Angeles – Vandale het minstens vier antieke rotskunswerke by 'n argeologiese terrein in Kalifornië gesteel deur waarskynlik van sirkelsae gebruik te maak, het kenners gesê.
Die petrogliewe, wat sowat 3 500 jaar gelede deur jagters geskep is, is in enkele ure deur die vandale gesteel, het die Los Angeles Times berig.
'n Vyfde rotsdeel het diep saagmerke op gehad, en 'n sesde het gebreek. Die sesde rotsdeel is naby 'n parkeerterrein in die oostelike Sierra-woestyn agtergelaat, en tientalle ander rotsdele is met hamers beskadig.
"Die individue wat dit gedoen het, is nie chirurge nie, hulle het [dit] net stukkend geslaan en gegryp," het Greg Haverstock, 'n argeoloog, aan die koerant gesê.
Dit is "die ergste vandalisme wat nog ooit gesien is" op die terrein, het hy gesê.
Die gesteelde rotsstukke is sowat 60 cm2 groot, en was amper vyf meter van die grond af.
Die rotskuns sluit tekeninge in van slange, bokke en jagters met pyle en boë.
Die diefstal is deur besoekers aan die gebied ontdek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA