VN: Geen vis teen 2050
2010-05-18 15:31
New York – Die wêreld staar die moontlikheid van vislose oseane teen 2050 in die gesig, het kenners van die Verenigde Nasies (VN) gesê.
“Ons kan oor veertig jaar moontlik sonder vis sit indien ons vooruitskattings korrek is,” het Pavan Sukhdev, die projekbestuurder van die Groen Eonomie-inisiatief van die VN se omgewingsprogram (Unep), gesê.
Kenners meen egter dié ramp kan vermy word indien subsidies aan visserye gesny word en visse beskermde sones gegee word.
‘n Verslag, wat later vanjaar deur Unep uitgereik sal word, is Maandag oopgemaak om hersien te word.
Die verslag fokus ook op hoe internasionale vereistes in ander sektore soos energie en vars water tegemoed gekom kan word terwyl ‘n wêreldwye ekologiese ramp vermy word.
Die val in visvoorraad is nie net ‘n omgewingskwessie nie.
Sowat 'n miljard mense, veral van armer lande, maak staat op vis as hul hoofbron van proteïene, het die VN gesê.
Die Groen Ekonomie-verslag voorspel dat daar oor die 35 miljard mense is wat op sowat 20 miljoen bote reg oor die wêreld visvang.
Sowat 170 miljoen ondernemings maak direk of indirek op die sektor plaas.
Volgens die VN, het sowat 30% van die visvoorraad afgeneem wat beteken dat alle visserye die risiko loop om teen 2050 sonder enige vis weg te stap.
Die regerings wat die visserye subsidieer, veroorsaak dat al hoe groter visserye al hoe minder vis na jaag en nie die visbevolking geleentheid gee om te herstel nie, meen die verslag.
Die kapasiteit van die visserye is 50% tot 60% hoër as wat dit moet wees, het Sukhdev gesê.
"Wat hier skaars is, is die vis,” het hy gesê.
Die daarstelling van bewaringsgebiede wat vroulike visspesies kans gee om volwassenheid te bereik en so hul vrugbaarheid te verhoog, is een belangrike oplossing.
Nog ‘n oplossing is die herstrukturering van visserye om kleiner vissersbote te gebruik wanneer die visvoorraad weer volop is, wat vir groter vangste sal sorg.
"Ons glo daar is oplossings, maar ons glo ook dat ‘n politieke wil en ‘n stabiele ekonomie benodig word,” het Sukhdev gesê.
-Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.