'Urine is goed vir kweek van groente'
2012-02-03 09:03
Johannesburg. – Australiese wetenskaplikes het met ’n veldtog begin om mense ter wille van voedselsekerheid en skoon waterbronne te oorreed om hul urine te herwin en hul groentetuine daarmee te bemes.
Die wetenskaplikes by die Instituut vir ’n Volhoubare Toekoms by die Sydney-Universiteit van Tegnologie (SUT) het gesê urine is ’n belangrike bron van fosfor en behoort daarom as natuurlike bemestingstof vir gewasse gebruik te word.
Dena Fam, leiernavorser, het aan die Australiese medianetwerk ABC gesê fosfor is die hoofoorsaak van die verryking en gevolglike besoedeling en algegroei in die wêreld se waterbronne. Dit beland in riviere en damme deur rioolsuiweringstelsels wat onklaar geraak het.
“Terwyl kundiges waarsku fosfor, sowel as skoon water, is besig om al hoe skaarser te word, klink die herwinning van urine dalk na ’n radikale oplossing. Historiese navorsing het egter bewys in antieke tye het mense – van die ou Grieke tot die Arabiere – hul eie urine gebruik om gewasse mee te bemes,” het Fam gesê.
Mense kan dalk wegskram van dié gedagte, maar die waarheid is dat urine feitlik steriel is sodra dit die liggaam verlaat.
“Die hoeveelheid nie-herwinbare fosfor, wat noodsaaklik is vir alle lewe op aarde, is besig om te kwyn en urine bevat alle voedingstowwe – fosfor, potassium en stikstof – wat nodig is vir die kweek van gesonde groente.”
Fam en haar navorsingsvennote gebruik nou tegnologie om urine van vaste stowwe te skei, asook “droë toilette” wat reeds in Finland en ander dele van Skandinawië gebruik word. Die urine word as natuurlike bemestingstof in ’n eko-dorpie naby die SUT gebruik en die groente daar groei glo welig.
Fam en haar kollegas doen nou ook navorsing om te probeer vasstel watter medisyne en ander hormonale middels in urine is wat plantgroei moontlik kan benadeel.
Volgens Fam moet mense oorreed word om kulturele vooroordele te oorkom en die konsep van urine-herwinning te aanvaar. Hulle het reeds ’n ooreenkoms met ’n maatskappy gesluit wat Sydney se urine gaan herwin. Die navorsers gaan nou ’n spesiale groentetuin buite die stad aanlê en net urine gebruik om die groente mee te bemes.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld