Uitwissing van mariene bronne kwel
2011-11-03 08:05
Johannesburg – Suid-Afrika se mariene bronne het in sommige gevalle in duie gestort en word in ander gevalle ten volle benut.
Dít is een van die bevindings wat gemaak word in die Wêreldnatuurfonds (WWF) se jongste verslag, WWF Fisheries: Facts and Trends South Africa.
Luidens dié verslag, wat gister gepubliseer is, blyk dit 50% van die vis en ander mariene bronne wat langs die Suid-Afrikaanse kus voorkom, word ten volle benut (dit kan dus nie uitgebrei word nie), terwyl 15% oorbenut word en deur uitwissing in die gesig gestaar word. Gewilde spesies soos Weskus-kreef en geelvintuna, wat in die Indiese Oseaan voorkom, is op die rand van uitwissing. Geelvintuna word byvoorbeeld in soesji gebruik.
Die WWF sê kabeljou- en geelbekbevolkings aan die Suid-Afrikaanse kus het in duie gestort.
In die verslag word daarop gewys dat die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) onlangs bekend gemaak het 85% van die wêreld se mariene bronne word óf deur uitwissing in die gesig gestaar óf ten volle benut.
Die WWF sê dié organisasie is besonder bekommerd oor die rol wat byvangste (diere wat per ongeluk gevang word) speel in die uitwissing van mariene bronne en die druk wat dit op bronne plaas.
Minstens 7 miljoen ton seeskilpaaie, dolfyne en ander mariene spesies word jaarliks “per ongeluk” in sleepnette gevang, gaan dood en word oorboord gegooi. Die WWF waarsku dat 6 uit 7 seeskilpadspesies op die rand van uitwissing huiwer weens byvangste en langlynhengel wat deur groot bote gebruik word.
Langlynhengel het nou ook daartoe gelei dat 27% van alle seevoëls en 7 albatrosspesies deur uitwissing bedreig word.
“Visserye speel ’n kritieke rol in die ekonomiese oorlewing van minstens 140 000 mense in Suid-Afrika, nie net wat inkomste betref nie, maar ook wat betref voedselsekuriteit.”
Die WWF wys daarop dat die visserybedryf volgens die Wêreldbank jaarliks US$78,8 miljard (sowat R625,6 miljard) verdien. Die verliese wat in die bedryf gely word weens swak bestuur en vermorsing, word op sowat R400miljard geraam.
Dié bewaringsorganisasie sê marienebewaringsgebiede (MBG) is die enigste oplossing vir dié krisis met dalende visbevolkings en ander mariene bronne. Suid-Afrika het wel 21 MBG’s wat betrekking het op die onmiddellike kusgebiede. Geen gebiede van die kus af word egter bewaar nie.
Die verslag beklemtoon dit dat as Suid-Afrika nie dringend ingryp om sy mariene?bronne te bewaar en dit kans gee om te herstel nie, geen werk in die bedryf op kort en mediumtermyn geskep sal kan word nie.
Morné du Plessis, uitvoerende hoof van WWF-SA, het gesê dit is nie net diegene wat vis vang wat op die waarskuwings moet ag slaan nie, maar ook verbruikers en handelaars.
“Daar moet ’n holistiese benadering gevolg word as ons die mens se groeiende vraag na mariene bronne wil bevredig. Dít is duidelik een van die 21ste eeu se grootste uitdagings,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad