Tydkapsule in Christchurch-puin gevind
2011-03-01 11:51
Christchurch – Reddingswerkers wat deur die puin van die Christchurch-katedraal gesoek het, het ‘n “wonderbaarlike” ontdekking gemaak.
Hulle het onder ‘n standbeeld van die stad se stigter op ‘n tydkapsule afgekom wat moontlik meer as 100 jaar oud kan wees.
Twee items – ‘n glasbottel met ‘n opgerolde manuskrip en ‘n metaal-silinder – is in die voetstuk van die standbeeld, wat na verlede week se 6.3-aardbewing vernietig is, gevind.
Reddingswerkers het die ontdekking Dinsdagoggend gemaak en werkers van die museum is onmiddellik gekontak om die artefakte te bestudeer.
Die items was in die voetstuk van ‘n standbeeld van John Robert Godley, die Ierse stigter van Christchurch, wat in 1867 opgerig is en in 1933 geskuif is.
Anthony Wright, die direkteur van die Canterbury-museum, het gesê dat dit baie fassinerend sal wees om uit te vind wat binne-in was.
Twee woorde was sigbaar op die manuskrip, “deur” en “opgerig”, maar die hele boodskap sal nie duidelik wees voordat dit nie deur kenners bestudeer is nie.
Dit sal in ‘n humiditeit-beheerde museum oopgemaak word om van enige skade beskerm te word.
Niks was nog bekend oor die inhoud van die metaal-silinder nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP