Twitter toegelaat by Wikileaks-verhoor
2010-12-15 22:47
Londen - Vryheid van spraak aktiviste het 'n regter se besluit om die gebruik van die sosiale netwerk Twitter, by die hofverrigtinge van Wikileaks-stigter Julian Asange toe te laat, verwelkom.
"Dit is sowaar 'n mylpaal," het David Allen Green, hoof van die Preiskel regsfirma se mediapraktyk, oor die aankondiging gesê.
"Dit is die eerste keer wat ek hoor dat daar spesifiek toestemming gegee word vir elektroniese kommunikasie vanuit 'n hof," het Green bygevoeg.
Britse howe het streng reëls oor kommunikasie. Kameras en bandopnemers word verbied, asook die gebruik van selfone. Selfs hofkunstenaars mag slegs notas binne die hof maak. En dan buite die hof gaan skets.
Na 'n versoek van 'n joernalis, het regter Howard Riddle Dinsdag aangekondig dat Twitter gebruik mag word solank dit stil is en nie inmeng met die prosedures nie.
Ten minste twee joernaliste het toe onmiddelik voortgegaan om die regter se toestemming vanuit die hof te tweet.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP