Twitter se groot verandering
2009-10-21 15:39
San Francisco - As jy wil weet wie om op Twitter te volg sal jy jou binnekort na mede Twitter-gebruikers moet wend in plaas van dié mikro-blog blad self.
Evan Williams, uitvoerende hoof en mede-stigter van Twitter het gesê dat hy “desperaat” is om die maatskappy se “voorgestelde gebruiker”-lys (suggested users), wat wenke gee oor wie om te volg, te verwyder.
Die lys, wat vroeër vanjaar bekendgestel is, bevat die name van mense soos die aktrise Kirstie Alley en die sanger John Mayer, tot selfs besighede soos die Southwest-lugdiens.
As jou naam op dié lys verskyn kan dit ‘n reuse toename in jou Twitter-volgelinge tot gevolg hê.
Williams, wat by ‘n Web 2.0 seminaar in San Francisco gepraat het, het gesê dié kenmerk is aanvanklik bekendgestel om nuwe gebruikers te help om mense te vind wat hulle kan volg.
Hy hoop dat omstredenheid wat bestan het omdat mense graag op hierdie lys wil verskyn, sal verdwyn as Twitter sy nuwe kenmerk bekendstel, wat gebruikers gaan toelaat om hul eie lyste van voorgestelde gebruikers te bou.
- AP