Twitter oorval met nuus oor aardbewing
2010-01-13 13:42
San Francisco - Hartverskeurende foto’s Woensdag van Haïti en dringende oproepe tot internasionale hulp is vinnig deur die mikroblog, Twitter, versprei ná 'n vernietigende aardbewing die eiland Dinsdag getref.
“Die verwoesting is iets ysliks,” het ‘n Twitter-gebruiker in Spaans onder foto’s op TwitPic geskryf
Die foto's is na bewering deur die fotograaf Carel Pedre met ‘n selfoon geneem.
TwitPic is ‘n diens wat mense toelaat om foto’s direk op Twitter te laai.
‘n Reeks foto’s wat deur @LisandroSuero gelaai is, wys skade aan die presidensiële paleis, terwyl nog ‘n foto wys hoe ‘n vrou in stof bedek is en kniediep in die puin staan.
Dié dodelike aardbewing, wat 7.0 op die Richterskaal gemeet het, het Haïti laatmiddag getref.
Daar heers vrese dat duisende mense onder die puin begrawe lê.
TwitPic is oorval met versoeke deur nuusagentskappe wat toestemming gevra het om dié foto’s te publiseer of met die mense wat hulle geneem het, te praat.
“Help Haïti” was een van Twitter se gewildste onderwerpe Woensdag, met tweets wat mense aangemoedig het om te help waar hulle kan.
Nog ‘n Twitter-gebruiker, @troylivesay, het geskryf: “Kerkgroepe stap in die nagtelike ure al singende in gebed deur die stad, ‘n beeldskone klank te midde ‘n verskriklike tragedie.”
Sapa-AFP