Twitter nou in Kuba se visier
2012-01-10 12:17
Havana – Owerhede in Kuba is hoogs ontstoke ná die jongste vlaag gerugte op Twitter dat Fidel Castro, die bekende Kubaanse politikus, dood is, en blameer nou dié netwerk self vir die gerugte.
Die Kubaanse media het hierdie week bewerings gepubliseer dat Twitter namens die Amerikaanse regering werk om Kuba te destabiliseer. Berigte het gesê dié sosiale netwerk word "gedwing" om hofbevele te gehoorsaam wat Amerikaanse beleid teen Havana ondersteun.
Die jongste gerugte oor Castro se beweerde dood op 2 Januarie het Twitter behoorlik aan die gons gehad onder die hutsmerker #FidelCastro.
Soortgelyke gerugte het in Augustus op Twitter die ronde gedoen.
Die jongste gerugte is later op 'n rekenaarvirus blameer, maar Kubane het ook die vinger na Twitter-gebruikers gewys wat dié boodskappe eerste gedeel het. Die rekeninge wat gebruik is om die gerugte te versprei is in Italië geskep.
Die proregeringswebwerf Cubadebate het intussen die blaam op Kubaanse uitgewekenes in Miami geplaas, en gesê dié Twitter-gebruikers word deur Washington befonds.
"Hierdie is nie die eerste keer wat Twitter die VSA se regeringsbeleid teen Kuba bevorder nie," het Cubadebate Saterdag beweer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA