Twitter-baas wil nie oor geldsake praat
2012-01-31 11:00
“Twitter is nié 'n mediamaatskappy nie,” het die uitvoerende hoof van dié webdiens, Dick Costolo, Maandagaand by die AllThingsD-mediakonferensie in Laguna Nigel, Kalifornië, tot verbasing van belangstellendes gesê.
Dié uitlating van Costolo is gemaak tydens 'n onderhoud met AllThingsD se Peter Kafka. Dit het kenners onkant gevang omdat Twitter juis gebruik word vir die verspreiding van nuus en opinies.
“Ons is in die mediabedryf, maar ons is nie noodwendig 'n mediamaatskappy nie,” het Costolo verduidelik. “Ons genereer nie ons eie inhoud nie; ons is 'n verspreider van inhoud en webverkeer. Ons is een van die grootste verspreiders van webverkeer... na ander aanlyn-bestemmings toe, en selfs na rolprente toe.”
Costolo het vrae oor Twitter se verlede en toekoms beantwoord, en 'n optimistiese beeld van die toekoms geskets.
Hy het egter vrae oor Twitter se finansiële sake, en spesifiek die vraag of Twitter in 2012 die eerste keer 'n wins sal maak, ontduik.
“Ons bespreek nie finansiële sake nie,” het hy gesê, maar benadruk dat die maatskappy se advertensie-inkomste steeds gesond aan die groei is.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.