Twitter-aanval teen 1 blogger gemik
2009-08-07 21:21
San Francisco – ‘n Pro-Georgië blogger was die teiken van ‘n kuberaanval wat gister die sosiale netwerk webwerf Twitter vir ure lank in duie laat stort het en duisende gebruikers gestrand gelaat het.
Die reuse ‘verspreide dienswyering’ aanvalle, oftewel DDos-aanvalle, was gemik teen ‘n enkele blogger genaamd Cyxymu, het ‘n internet-sekuriteitsmaatskappy, F-Secure, Vrydag gesê.
Die kuberaanvalle het toegang tot Twitter vir ure lank onmoontlik gemaak vir duisende gebruikers regoor die wêreld.
Die kuberaanval het ook Facebook, YouTube en Livejournal se dienste stadiger gemaak, het Mikko Hyponnen, ‘n navorser by F-Secure, op die maatskappy se webwerf gesê.
“Dis so goed jy gooi ‘n bom op ‘n tv-stasie omdat jy nie van een van die nuuslesers hou nie,” het Hyponnen gesê.
Dit is onbekend wie vir die aanvalle verantwoordelik was, maar F-Secure verdink nasionalistiese Russiese kuberkriminele wat ‘n opponent wou stilmaak, het die sekuriteitsmaatskappy gesê.
Rusland en Georgië herdenk hierdie week die oorlog tussen die twee lande wat ‘n jaar gelede plaasgevind het.
-Sapa