Twitter, Facebook wen toekenning
2009-11-19 02:40
Washington – Die geboorte van Wikipedia, die afsterwe van Napster, die iPhone, Facebook en Twitter is almal deur die Webby-toekennings aangewys as die top-10 oomblikke van die dekade.
Ander gebeurtenisse wat deur die Internasionale Akademie van Digitale Kuns en Wetenskap bekroon is met die Webby-toekenning is Iran se verkiesingsbetogings, die uitbreiding van Craigslist en die bekendstelling van Google AdWords.
“Die internet is die storie van die dekade omdat dit soveel verandering in ons daaglikse lewens gebring het,” het David-Michel Davies, uitvoerende hoof van die Webby-toekennings, gesê.
“Die oorhoofse tema op ons lys is die internet se vermoë om die krag in die hande van alledaagse mense te sit,” het hy gesê.
Die Webby-toekennings se lys van die top-10 mees invloedryke internet-oomblikke is as volg:
- Die groei van Craigslist buite San Francisco (2000)
- Die bekendstelling van Google AdWords (2000)
- Die begin van Wikipedia (2001)
- Die einde van Napster (2001)
- Die gewildheid van YouTube (2006)
- Facebook en Twitter (2006)
- Die bekendstelling van Apple se iPhone (2007)
- Die gebruik van die internet in Amerika se presidensiële verkiesingsveldtog (2008)
- Die gebruik van Twitter in Iran se verkiesingsbetogings (2009)
–Sapa