Twis oor iPad kan Apple se sak erg ruk
2012-05-07 13:30
Shanghai – 'n Chinese rekenaarmaatskappy wat Apple hof toe gesleep het oor die regte vir die iPad-handelsmerk in China is nou besig om samesprekings te voer vir 'n moontlike skikking buite die hof, het 'n regsverteenwoordiger Maandag gesê.
Proview Technology, met sy hoofkwartier in die suidelike Chinese stad Shenzhen, is in 'n uitgerekte regstryd met die Amerikaanse tegnologiereus Apple gewikkel oor eienaarskap van die Chinese regte vir die iPad-handelsmerk. Albei voer aan hulle besit die handelsmerk.
"Albei partye onderhandel nou oor 'n skikking," het Xie Xianghui, Proview se regsverteenwoordiger, aan die nuusagentskap AFP gesê.
"Apple en Proview is albei bereid om te skik en dit sal vir beide partye tot voordeel strek as hulle so vinnig moontlik tot 'n gelyk kan kom."
Dié skuldbelaaide Proview skuld Chinese banke sowat $400 miljoen (ongeveer R1,3 miljard), het die Global Times-koerant Maandag berig.
"Die twee partye stry nou oor die vergoedingsbedrag want daar is 'n redelike groot verskil tussen die eise van die twee," het Xie gesê. Hy het nie gesê wat die bedrag is wat Proview eis nie.
Apple kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
Proview Technology het "iPad" in verskeie lande, insluitend China as handelsmerk geregistreer. Hy het dit vroeg in die jaar 2000 gedoen – jare voor Apple sy produk bekendgestel het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP