'Tweet' uit toilet, kry R75K
2009-11-24 10:09
New York - Vyf sogenaamde toilet-ambassadeurs is uit honderde inskrywings gekies vir 'n gesogte geleentheid om uit badkamers op Times Square te tweet.
Die vyf wenners sal elk $10 000 (R75 000) kry vir ses weke se werk.
Toiletpapiervervaardiger Charmin rig jaarliks sowat 20 badkamers in die bekende New Yorkse plein op as deel van 'n reklameveldtog. Besoekers aan die Amerikaanse stad kan die badkamers verniet gebruik.
Die toiletgeriewe sluit iPods en tv-skerms in.
Die ambassadeurs vir die Times Square Charmin toilette, 'n nuwe toevoeging tot die reklamefoefie, moet besoekers verwelkom en met hulle geselsies aanknoop.
Hulle is ook gevra om hul ondervindings op Facebook, YouTube en Twitter te deel.
"Ons gaan die badkamers aan die wêreld bring," het Cody Melton, 'n 31-jarige komediant wat as ambassadeur sal optree, gesê.
Die maatskappy belowe dat alle beeldmateriaal wat vanaf die toilette op die internet gepubliseer word, familievriendelik sal wees.
- Reuters