‘Twee vingers!’ ná jare van blindheid
2011-11-28 09:00
Johannesburg – “Twee! Ek sien twee vingers!”
Dít het Ruben Mokashi (62) uitgeroep ná ’n katarakoperasie oor die naweek wat sy sig herstel het.
Toe Mokashi eergisteroggend by die Johannesburgse Oog-hospitaal aankom moes hy deur personeel aan die hand gevat en gelei omdat hy weens erge katarakte niks kon sien nie.
Hy was een van 50 pasiënte wat die naweek gratis katarak-operasies ondergaan het.
Chris van Niekerk en sy span van nege dokters het eergister om 07:00 weggespring en teen 13:00 was al die operasies gedoen.
Die jongste pasiënt was me. Patricia Ngwenya (33), ’n skilder van Florida, en Oom Abe Soloman (90) van Riverlea was die oudste.
Die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg en die St Johns-hospitaal in Soweto hou die waglyste wat tot twee jaar lank kan wees.
Die verbande is gisteroggend by die Helen Joseph-hospitaal afgehaal. Die pasiënte het in lang toue opgewonde sit en wag.
Sommige het weens hul katarakte jare laas gesien en die trane het oor hul wange geloop.
“Toe my rybewys nie hernu kon word nie omdat ek te blind was, het ek gedink die dokters jok vir my, want ek was dan nie blind nie. Ek besef nou eers hoe sleg ek gesien het,” het ’n tranerige me. Elizabeth Mahange (64) van Soweto gesê.
“Alles is glashelder, ek sien nou soos ’n nuwe baba.”
Nog iemand wat bly is dat hy weer agter die stuurwiel kan inklim, is Maxwell Mampene (80), wat die afgelope ses maande weens katarakte heeltemal blind was.
Die dag van die operasie moes hy vir iemand vra of hy sy hemp reg om aangetrek het, en nou kan hy “alles helder sien”.
’n Groep vroue het nadat die verbande afgehaal is, Johnny Nash se “I can see clearly now” gesing.
Elke pasiënt se swakste oog is geopereer en die sowat R10 000 wat elke operasie kos, is deur die Johannesburg Oog-hospitaal en borge, waaronder Genop Healthcare, Apex Vision en Adcock Ingram, gedek.
Volgens Louis Kruger, een van die dokters wat die operasies gedoen het, is 160 000 mense in Suid-Afrika tans blind weens katarakte – iets wat volgens hom met die nodige geld heeltemal uitgewis kan word.
Vir meer inligting of om geld te skenk vir katarak-verwyderingsoperasies, skakel 011 782 1088.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld