Twee in hof wat lasers op helikopters rig
2012-01-09 20:00
Bloemfontein – Twee mans het Maandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn nadat hulle glo ‘n groen laserstraal op helikopters gerig het wat by twee lughawens in die stad opgestyg het.
Theunis le Grange (45) en Albertus Niewoudt (21) het borgtog van R500 elk gekry, het polisiewoordvoerder kol. Sidhnu Naidoo gesê.
Die saak is tot 24 Januarie uitgestel.
Die saak teen ‘n 14-jarige seun is teruggetrek. Hy sal berading ontvang en deur maatskaplike werkers gemonitor word.
Die twee mans staan tereg op aanklagte daarvan dat hulle lugvaartreëls oortree het.
Die drie is in hegtenis geneem nadat hulle Saterdagaand die laser op helikopters gerig het wat by die Bloemfontein Lughawe en die Bloemspruit Lugmagbasis opgestyg het.
Volgens Naidoo kan die lasers vlieëniers verblind of disoriënteer, wat tot ‘n vliegongeluk kan lei.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA