Twee bruikbare nuwe webtuistes vir reisigers
2011-06-13 13:45
New York – Twee nuwe webwerwe mik om reis nóg meer van ‘n sosiale gebeurtenis te maak.
Beide triptrotting.com en igottaguide.com kombineer reis met elemente van sosiale media om reisigers en gashere volgens belangstellings met mekaar in verbintenis te bring.
Triptrotting.com sit reisigers met gashere in 173 stede wêreldwyd in kontak. Die gashere mik om hulle ‘n outentieke ervaring in hul tuisstad te gee – soos om ‘n tuisgekookte Thai-ete in ‘n woonstel in Bangkok te geniet of om in geheime kunsgalerye in Stockholm te gaan dwaal.
Die pare word met mekaar verbind volgens belangstellings wat hulle in gemeen het en daar is geen koste aan die diens verbonde nie. Gashere vra egter soms ‘n klein fooi tot en met $30 (sowat R200) om hul kostes te dek.
Triptrotting hou dié fooi en betaal slegs die gasheer as die reisiger ‘n plesierige ervaring het om terug huis toe te neem.
iGottaguide bring toeriste in kontak met amateur- en professionele toergidse in die stad waarheen hulle graag wil reis. Die blad fokus daarop om uitgetrapte toeriste-areas te vermy en ‘n meer outentieke ervaring te waarborg wat boonop ook nie die beursie veel ligter maak nie.
Die blad is sover net in New York beskikbaar, maar stigter Keith Petri het gesê nog stede sal binnekort bygesit word.
Lees meer hier.
Volg Nuus24 op Twitter.