'Tree op, of ek doen dit self' – Obama
2013-02-13 07:32
Washington – Pres. Barack Obama van die VSA het Dinsdag geen doekies omgedraai oor klimaatverandering nie, en gesê as wetgewers in dié land nie met dié probleem erns maak nie, sal hy dit self doen.
Obama het beloof om projekte vir die benutting van wind- en sonkrag sowel as "skoner" aardgasse te ondersteun, en het 'n beroep op sy land gedoen om die energie wat in huise en ondernemings gemors word, oor die volgende 20 jaar met die helfte te sny.
Obama het in sy jaarlikse staatsrede skeptici getakel, en daarop gewys dat 12 van die warmste jare op rekord in die laaste 15 jaar was.
"Ons kan kies om te glo dat die superstorm Sandy, en die ergste droogte in dekades, en die ergste wegholbrande wat sommige state ooit gehad het, maar net toeval was," het Obama gesê.
"Of ons kan kies om te glo in die oorweldigende oortuiging van die wetenskap – en optree voor sit te laat is," het hy gesê. Sommige demokrate het hom hieroor toegejuig, terwyl baie Republikeine stilgebly het.
Obama het beloof dat hy nuwe olieprojekte sal toelaat, maar het ook gesê van die inkomste uit dié projekte moet opsygesit word om 'n "energiesekerheidstrust" te skep wat gebruik kan word vir navorsing oor maniere om die VSA se afhanklikheid van olie te verminder.
"Maar as die kongres nie vinnig optree om toekomstige generasies te beskerm nie, sal ek self," het hy benadruk.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP