Toestelle ‘net geldmors’
2011-10-28 09:00
Johannesburg – Danksy ’n regulatoriese skuiwergat word omstrede toestelle vir “mediese diagnose” wat in ander lande verbied of gereguleer word, wyd in Suid-Afrika deur terapeute gebruik wat nie mediese kwalifikasies het nie.
Tans word net elektriese toestelle deur die departement van gesondheid gelisensieer. Regulasies is op pad wat sal vereis dat enige toestel wat vir diagnose of behandeling gebruik word – selfs kondome – gereguleer word. Dit sal misleidende reklame oor toestelle ook vasvat.
Terry Downes, adjunkdirekteur vir gesondheidstegnologie by die departement, het gesê ’n plaasvervanger van die Medisynebeheerraad sal die regulasies uiteindelik toepas.
Verskeie plaaslike alternatiewe gesondheidspraktisyns beweer op hul webwerwe hulle kan ernstige mediese toestande met apparate diagnoseer en behandel, al is dit onwettig om in Suid Afrika ’n diagnose te maak en behandeling voor te skryf sonder ’n mediese kwalifikasie of registrasie by die Raad op Gesondheidsberoepe. Pryse vir sulke behandelings wissel tussen R170 en R500 per sessie of meer – vergelykbaar met wat huisdokters en spesialiste vra.
Die VSA se voedsel-en-medisyne-agentskap (FDA) het die invoer van een inkarnasie van die Scio-masjien, die EPFX, in 2008 verbied weens wanvoorstellings en omdat praktisyns desperate pasiënte uitgebuit het. Terapeute wat onder meer kanker met Rife-resonators sou “genees” is ook al in die VSA vervolg.
In 2009 het die Maleisiese gesondheidsowerhede lewende bloedontleding as basis vir die voorskryf van vitamien-aanvullings gekritiseer.
Akin Abayomi, hoof van die Universiteit van Stellenbosch se hematologiedepartement, het gesê: “Daar is geen getuienis dat jy enigiets met hierdie tegniek kan vasstel nie.”
Dawie van Velden, ’n bekende mediese navorser, het gesê alternatiewe terapieë “het in ’n mate ’n plasebo-uitwerking”.
“Ons gooi dit nie heeltemal oorboord nie; solank dit nie skadelik is nie en pasiënte nie uitgebuit word nie. Die probleem is waar terapeute astronomiese pryse vra en diagnoses mis.”
Bernard Brom, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Genootskap vir Integratiewe Medisyne, het gesê data van sulke masjiene moet ideaal gesproke deur mense met mediese opleiding ontleed word. “Ek glo nie iemand sonder behoorlike mediese opleiding moet ernstige mediese toestande behandel nie. As ’n pasiënt na jou toe kom met ’n chroniese siekte en vyf voorskrif-medikasies neem, moet jy verstaan waarmee jy te doen het.”
Die verbruikersaktivis dr. Harris Steinman meen sulke terapieë is nie net ’n mors van geld nie; hulle mag ook veroorsaak dat individue verkeerde diagnoses kry of produkte gesmous word wat onnodig is.
Volgens die Quantum Alliance South Africa, ’n agent vir terapeute wat Scio-masjiene gebruik, is sy terapeute nie gekwalifiseer om enige mediese of sielkundige toestand, siekte of afwyking te diagnoseer, behandel, genees of voorkom nie, en is sy toestelle ontwerp vir opsporing en vermindering van stres.
Garth Kent, stigter van Sevenpointfive, ’n konsessie wat lewende bloedontleding doen en kliënte oor vitamien-aanvullings raadgee, het gesê sy dienste is nie ’n mediese intervensie nie.
“Ons kyk na die funksie van die bloed en op daardie basis kan ons oor aanvullings of lewenstyl-aanpassings raad gee.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld