Toestel ruik sweet, asems van rampslagoffers
2011-09-13 11:00
Londen – Wetenskaplikes het gesê hulle het met sensors vorendag gekom wat die asems en sweet van vasgekeerde rampslagoffers kan opspoor.
“Dit is die eerste wetenskaplike studie van stelsels wat vasgevange mense kan opspoor,” het die navorser Paul Thomas van die Loughborough-universiteit in Engeland gesê.
Die sensors snuffel metaboliete, die afvalstowwe wat in sweet en asems teenwoordig is, uit van mense wat onder geboue en puin vasgekeer is.
Honde kan opgelei word om dié stowwe uit te snuffel, maar hul opleiding is duur en hulle is dikwels self in gevaar tydens soektogte.
“Ons toestel kan sonder die ondersteuning van ‘n laboratorium gebruik word,” het Thomas gesê. “Dit kan tekens van lewe vir ‘n groot tydperk monitor en op groot skaal gebruik word.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP