Titanic-halssnoer gesteel
2011-09-19 22:57
Kopenhagen – ‘n Halssnoer wat deur een van die passasiers
van die Titanic gedra is, is tydens ‘n uitstalling in Tivoli-park in Kopenhagen
gesteel.
Sonder om die alarms te laat afgaan, het die
diewe die halssnoer uit die uitstallingslokaal in Tivoli-park in Kopenhagen
gesteel.
“Ons vermoed hulle was professionele diewe, want
daar was ander juweliersware wat uitgestal is wat duurder is as die spesifieke halssnoer,”
het Troben Plank, ‘n woordvoerder van Tivoli, gesê.
Die uitstalling, wat die wêreld vol vertoon
word, behoort aan die Musealia-maatskappy.
Luis Ferreiro, ‘n woordvoerder vir die
Musealia-maatskappy, het gesê dat die halssnoer aan die Widener-familie behoort
het.
Dié familie was een van die rykste families aan
boord die Titanic toe die skip in 1912 in die Atlantiese Oseaan gesink het.
Volgens Ferreiro is die halssnoer minstens $19
000 (R141 000) werd.
Die diewe sal egter nie sommer die stuk kan
verkoop nie, aangesien dié halssnoer wêreldwyd bekend is.
Ferreiro vertel dat alhoewel die halssnoer aan
die Widener-familie behoort het, het reddingswerkers die juweelstuk in ‘n
dienskneg, wie se lyk uit die water gelig is, se sak gevind.
Trivoli-park het ‘n beloning van $1 000 (R7 400) vir enige inligting aangaande
die halssnoer aangebied.
- Volg Nuus24 op Twitter
- AFP