Tieners se IK’s kan baie verbeter, versleg
2011-10-20 14:41
Londen – Kinders se dinkvermoëns kan as tieners tot ‘n veel groter mate as voorheen verwag is, verbeter of versleg, het nuwe navorsing bevind.
Tot nou het navorsers geglo intellektuele vermoë, gemeet as ‘n kind se intelligensie kwosiënt (IK), bly lewenslank relatief konstant.
Toetse wat op tieners op 14-jarige ouderdom en weer op 18-jarige ouderdom gedoen is, het egter bevind daar is 'n geweldige verbetering in party se denkvermoë, terwyl ander s’n versleg het.
Die bevindinge is in die joernaal Nature gepubliseer.
Die navorsers het 19 seuns en 14 meisies met die gebruik van breinskanderings en IK-toetse ondersoek.
Hulle het bevind 39% van die tieners se verbale IK’s het verbeter terwyl 21% se begrip van ruimte verbeter het.
“Ons is geneig om kinders se vermoëns om te presteer vroeg reeds te evalueer,” het die hoofnavorser Cathy Price van die University College London gesê. “Hier het ons egter nou bewys hul dinkvermoëns is waarskynlik nog aan die ontwikkel.
“Ons moet versigtig wees om nie swakker presteerders vroeg te oordeel nie, want hul IK’s kan dalk heelwat verbeter.”
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.