Tieners kies internet bo eie motor
2011-11-28 21:05
Londen – Amerikaanse tieners wil al minder agter die wiel inklim en self bestuur en sal deesdae eerder Facebook bo hul eie stel wiele verkies.
Navorsers het onlangs bevind baie jong Amerikaners verkies om hul geld aanlyn te spandeer om met hul vriende te kommunikeer teenoor die tradisionele begeerte om in ‘n motor rond te rits.
“Dit was eens op ‘n tyd iets om na uit te sien. Jy was een van die cool kinders as jy ‘n motor kon bestuur of jou eie motor gehad het,” het Kristin Nevels van die Amerikaanse motorvereniging gesê.
Tieners verkies egter deesdae die blink plastiek en glasskerms van die nuutste slimfone en tabletrekenaars, berig die BBC.
In ‘n peiling het die inligtingstegnologiefirma Gartner bevind 46% van Amerikaners tussen 18- en 24-jarige ouderdom verkies internettoegang bo die besit van ‘n motor.
Onder hul ouers se generasie, wat in die 1950’s en 1960’s gebore is, staan die getal op 15%.
Wally Neil, ‘n 25-jarige verkoopsman van Noord-Carolina in Amerika het gesê sy besluit om nie ‘n bestuurlisensie na te jaag nie is weens die feit dat hy met sy vriende aanlyn kan kommunikeer.
“Ons is almal redelik na aan mekaar,” het Neil gessê.
“Ons ry nie na mekaar se huis nie,” het hy bygevoeg. “Daar is hierdie netwerk vir rekenaarspeletjies waardeur ons kan kommunikeer.”
– Lees die volledige storie hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.