Tieneraap se 20 milj. jaar oue skedel ontdek
2011-08-02 19:13
Kampala– ‘n Span Ugandese en Franse paleontoloë het Dinsdag gesê hulle het ‘n 20 miljoen jaar oue skedel van ‘n aap in Uganda ontdek – ‘n vonds wat die gebied se evolusiestorie kan help vertel.
“Dit is die eerste keer dat so oue skedel van ‘n aap gevind is,” het Martin Pickford, ‘n paleontoloog van die College de France in Parys, gesê. “Dit is ‘n uiterse belangrike vonds en sal Uganda op die wetenskaplike wêreldkaart sit.”
Die skedel het aan ‘n verlangse neef van die groot aap Hominidae behoort – ‘n manlike Ugandapitchecus Major.
Die kopbeen is op 18 Julie in ‘n onaktiewe vulkaan in Uganda se Karamoja-gebied ontdek.
Voorlopige studies het bevind die aap was ‘n herbivoor en was skaars ‘n tiener toe hy dood is.
Sy 10-jarige kop was so groot soos dié van ‘n sjimpansee, maar sy brein was so groot soos ‘n bobbejaan s’n, het Pickford gesê.
Die fossiel sal na Parys geneem word vir studie voor dit aan Uganda terugbesorg sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP