Testosteroon + intuïsie = puik handelaar
2009-11-25 09:33
Londen - Britse wetenskaplike meen die perfekte kombinasie van testosteroon, ondervinding en 'n oog op 'n deel van die winste skep die beste finansiële handelaars.
Navorsers by die Universiteit van Cambridge het 53 handelaars in Londen se finansiële distrik, The City, bestudeer.
Handelaars met etlike jare se ondervinding, die regte hormoonvlakke en 'n geleentheid om in transaksiewinste te deel, is winsskeppende, koelkop werkers wat die regte risiko's neem, het die navorsing getoon.
Dié handelaars presteer goed, selfs wanneer die mark op 'n laagtepunt is.
Studies het al voorheen bewys dat testosteroon 'n belangrike rol in markhandelaars se werk speel. Manlike handelaars maak baie meer aggressiewe handelsbesluite wanneer hulle testosteroonvlakke hoog is.
Hierdie biologiese eienskap is egter slegs voordelig vir handelaars indien dit gekombineer word met goeie opleiding en die regte soort aansporing.
"In markhandel, net soos in sport, is ondervinding nodig," het John Coates, 'n navorser by Cambridge wat voorheen op Wall Street gewerk het, gesê.
- Reuters