'Te veel uraan in Potch se water'
2011-09-01 07:03
Johannesburg – Die hoeveelheid uraan in Potchefstroom se drinkwater is “soms” 21 keer hoër as dié in Ventersdorp s’n.
So het prof. Frank Winde van die mynwaternavorsingsgroep by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus Woensdag op ’n beraad ter herdenking van die 40ste bestaansjaar van die Waternavorsingskommissie (WNK) in Kempton Park gesê.
Winde het gesê hy is self ’n inwoner van Potchefstroom en “op die een of ander manier” kom die uraan deur die dorp se watersuiweringswerke. “Die watersuiwering is nie heeltemal doeltreffend nie,” het hy gesê. “Periodieke watermonsters wat die plaaslike owerheid neem, tel duidelik nie die uraan op nie.”
Hy het oor ’n tydperk die aanpaksels in waterketels in Potchefstroom en Ventersdorp ontleed. Sy bevinding was duidelik: daar is soms 21 keer meer uraan in ketelaanpaksels in Potchefstroom as dié van Ventersdorp.
Winde het gesê Potchefstroom is deur die Wonderfonteinspruit en die Gerhard Minnebron (wat in die Mooirivier uitmond) aan die ontvangkant van al die ou mynuitskot, waaronder ’n paar honderdduisend ton uraan.
Ventersdorp is ver stroomop van Potchefstroom en mynbou beïnvloed nie dié drinkwater nie.
Winde het ’n paar klappe na die WNK uitgedeel en gesê dié organisasie is geneig om verslae oor die myne aan die Witwatersrand en die Verre-Wes-Rand geheim te hou. Die mees opspraakwekkende verslag, die sogenaamde 1214-verslag – oor die ernstige mynwaterbesoedeling in die Wonderfonteinspruit – is ná twee jaar van geweldige druk deur nie-regerings- organisasies en die media vier jaar gelede uitgereik. Hy wag nou nog op ’n soortgelyke verslag wat in 2003 voltooi is en “geheim gehou word”.
Hy is ook bewus daarvan dat van die name in die 2003-verslag verander is.
Hy het aan dr. Rivka Kfir, uittredende hoof van die WNK wat in die gehoor gesit het, gesê hy kan in ’n sekere sin verstaan dat dié navorsingsinstelling “skrikkerig” is vir die mynbousektor wat in die verslae geïmpliseer word.
Winde het die interministeriële taakspan wat oplossings moet kry vir die bedreiging wat suur mynwater vir die vier komme aan die Witwatersrand inhou, gekritiseer en gesê van hul data is “foutief en onakkuraat”.
Volgens hom hou die stygende suur mynwater in die sentrale kom – anders as wat die taakspan bevind het – geen probleem vir die middestad van Johannesburg in nie. Winde het gesê hy meen ook daar gaan net 35 megaliter water per dag by die sentrale kom uitborrel en nie 60 megaliter soos die taakspan voorspel het nie.
Verskeie waterkundiges wat die voorlegging bygewoon het, het gesê die burgerlike gemeenskap is onseker oor wat met Johannesburg gaan gebeur – veral as gekyk word na die ekologiese ramp tans aan die Wes-Rand – omdat daar soveel weersprekings, ontkennings en geheimhouding oor waternavorsing in dié streek is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld