Te min oefening, te veel TV lei tot depressie
2011-11-14 10:15
New York – Ouer vroue wat meer oefening kry en minder televisie kyk is minder geneig om met depressie te sukkel, het ‘n nuwe studie bevind.
Navorsers het bevind vroue wat in die afgelope paar jaar die meeste geoefen het, was 20% minder geneig om aan depressie te ly as vroue wat min oefening gekry het.
Die navorsers het ook bevind hoe meer die vroue tyd voor die televisie deurgebring het, hoe meer geneig was hulle om aan depressie te ly.
“Hoër vlakke van fisieke aktiwiteite hou verband met ‘n laer risiko vir depressie,” het die hoofnavorser Michel Lucas van die Harvard-universiteit in Amerika gesê.
Sy navorsing is in die American Journal of Epidemiology gepubliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters