Te min meisies lei tot drank, geweld
2011-06-17 08:09
Johannesburg – Kunsmatige geslagseleksie sal tot die geboorte van meer seuns as meisies lei – met tragiese gevolge vir die wêreld, meen ’n Australiese biologie-professor.
Rob Brooks van die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis in Sydney skryf in sy boek Sex, Genes & Rock ’n Roll: How Evolution Has Shaped the Modern World daar is tans groot druk op ouers wat in-vitro-bevrugting gebruik om die geslag van hul kind te kies.
Volgens Brooks word voorspel dat ’n katastrofe binne ’n dekade verwag kan word wanneer 20 tot 30 miljoen meer seuns as meisies in lande soos China en Indië gebore word.
Dit kan katastrofaal wees as dié mans begin vrou soek en daar nie genoeg van die vroulike geslag vir almal is nie.
Die surplus-mans in dié twee lande kan daaraan toegeskryf word dat arm Chinese en Indiërs seuns bo meisies verkies en dus – as die vrou uitvind sy verwag ’n meisie – die fetus laat aborteer.
Brooks haal navorsing in sy boek aan wat toon in lande waar daar meer seuns as meisies is, vier geweldmisdaad, dobbelary, dwelmgebruik en die ontvoering van vroue hoogty.
Mans wat nie vroue kry nie, en in Chinees as “dooie takke” beskryf word – dus diegene wat nie ’n nageslag het nie – wend hulle gewoonlik tot drankmisbruik en anti-sosiale gedrag.
Brooks meen die miljoene “oorskot”-mans in Asië bedreig nie net die vrede waar hulle woon nie, maar ook streek- en internasionale stabiliteit.
Hy wys daarop dat seuns wat uit welgestelde families gebore word makliker ’n vrou kry. Dis die arm, woedende jong mans wat selfs wêreldvrede kan bedreig.
Hy skryf as daar net 5 000 meer seuntjies as meisies per jaar in Australië gebore word, kan ’n mens maar ’n voorspelling maak deur te kyk na dié land se “trotse geskiedenis” van alkoholmisbruik en geweld wat destyds tot chaos in Australiese myndorpe gelei het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld