Tasmaniese tier toe nie skaapdief
2011-09-01 12:54
Sydney – Die uitgestorwe Tasmaniese tier is vroeg in die 1900’s gejag en uitgeroei omdat hulle glo Australiese boere se skape verskeur het, maar ‘n studie bewys dié outjies was veels te lig in die broek.
Die nuwe studie bewys die Tasmaniese tier, die klein karnivoor wat soos ‘n kruising tussen ‘n hiëna en ‘n tier lyk, het nié skape verskeur nie.
Dié outjies se kake was glo so swak dat hul skaars ‘n buidelrot sou kon doodbyt.
“Ons navorsing bewys die Tasmaniese tier se kragtelose kaak kon slegs kleiner prooi doodbyt,” het die hoofnavorser, Marie Attard, van die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis gesê.
Attard en haar kollegas het in die Journal of Zoology geskryf die Tasmaniese tier was glo klaar op die rand van uitsterf toe Europese setlaars aan die Australiese kus geland het. Hulle het egter op die eiland Tasmanië bly voortbestaan.
Hul bestaan was egter bedreig toe die regering ‘n bevel uitgereik het om hulle van kant te maak omdat hulle glo skape verskeur het.
Die laaste Tasmaniese tier het by die Hobart-dieretuin in Tasmanië in 1936 gevrek.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.