Tande help bepaal hoe koel dinosourusse was
2011-06-28 08:20
Los Angeles – Wetenskaplikes in die VSA het vir die eerste keer ’n manier ontdek om die liggaamstemperatuur van dinosourusse akkuraat te bepaal – deur hul gefossileerde tande te ontleed.
Chemiese ontleding van fossieltande van twee souropod-dinosourusse (reusagtige dinosourusse met kenmerkende lang nekke en sterte) uit die Jurassiese tydperk het getoon dié tamaai plantvreters was omtrent so warm soos die meeste hedendaagse soogdie-re.
Die twee souropod-dinosourusse – van die grootste landdiere ooit – was koeler as wat kundiges van sulke groot diere verwag het.
Navorsers van die California Institute of Technology (Caltech) het dié bevindings verlede week op die webwerf van die tydskrif Science gepubliseer.
“Dis soos om ’n termometer in ’n dier te druk wat reeds 150 miljoen jaar gelede uitgesterf het,” het Robert Eagle, hoofouteur van die studie, gesê.
Sy span se bevindings ondersteun vorige navorsing wat daarop dui dat dinosourusse meer energiek en aktiewer was as wat vroeër geglo is.
Eagle se studie beantwoord egter nie die vraag of dinosourusse koud- of warmbloedig was nie.
Koudbloedige diere maak op hul omgewing en die son staat vir liggaamshitte, terwyl warmbloediges, soos mense en voëls, ’n selfregulerende metabolisme het om hitte te genereer en konstant te hou.
Eagle het gesê om dié vraag te beantwoord sal nog meer liggaamstemperatuur-ontledingstudies op ’n baie groter verskeidenheid dinosourusse uitgevoer moet word.
Die twee spesies wat tot dusver ondersoek is, is die Brachiosaurus brancai en die camarasaurus – albei verwant aan die bekende, reusagtige brontosourus.
Daar is vasgestel brachiosaurus se liggaamstemperatuur was 38,2 ºC en camarasaurus s’n 35,7 ºC.
Dié lesings stem ooreen met die liggaamstemperatuur van die meeste hedendaagse soogdiere.
Dit is egter warmer as dié van krokodille en alligators en koeler as dié van voëls.
– Beeld
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters