Taakspan aangestel om suur water te ondersoek
2010-08-20 04:57
Kaapstad - Buyelwa Sonjica, minister van waterwese, is beveel om dringend 'n taakspan aan te stel om die suur mynwater in sommige provinsies te ondersoek.
Themba Maseko, woordvoerder van die regering, het Donderdag gesê die taakspan sal 'n duidelike en gekoördineerde strategie beding om die probleem aan te spreek.
Die kabinet is bekommerd oor berigte van suur mynwater in Gauteng, Mpumalanga, die Noordwes en die Vrystaat.
Berigte dui daarop dat dié verskynsel veroorsaak word deur mynaktiwiteit en ernstige gesondheids- en ekonomiese risiko's kan inhou.
Die taakspan sal insluit: die ministers van minerale hulpbronne, omgewingsake, samewerkende regering en tradisionele sake, minister in die presidensie wat verantwoordelik is vir die beplanningskommissie en die relevante provinsiale ministers van die provinsies wat geraak word.
"Die taakspan sal terugvoer aan die kabinet gee oor die planne vorentoe," het Maseko gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA